Oor die afgelope drie jaar het uitdagings in die lewendehawemark gewissel van siektekwessies tot verbuikers-inkomstedruk, volgens die herfs-uitgawe van Absa AgriTrends 2024.
Dinamika in die beesvleismark
Ondanks ‘n toename in die frekwensie en intensiteit van beurtkrag in die vierde kwartaal van 2023 en tydens die eerste maande van 2024, het beesvleispryse gunstig gereageer op ‘n styging in feesseisoen-vraag.
Die pad vorentoe
Absa verwag dat beesvleispryse oor die medium termyn ‘n opwaartse kurwe sal volg. Dit word gerugsteun deur verbeterde vooruitsigte van markte soos Saudi-Arabië, met die waarde van ingevoerde beesvleis teen ongeveer 740 miljoen USD.
Plaaslik sal die vraag na verwagting ietwat herstel soos wat rentekoerse verlaag en beurtkrag minder voorkom.
Suid-Afrika se beesvleismark voorsien groei te midde van globale tendense, hoewel voortslepende elektrisiteitskwessies prysstygings sal beperk.
Dinamika in die lam- en skaapvleismark
Anders as beesvleis, het lamsvleispryse tydens die derde kwartaal van 2023 laer geneig.
Dit was op die rug van ‘n oplewing in uitvoer-voorsiening van Australië soos wat droë toestande van die huidige El Nino gelei het tot ‘n vinnige styging in slagtings en uitvoere uit dié land.
In vorige uitgawes van hierdie vooruitskouing is daar melding gemaak van die geleenthede vir groei in uitvoere van Suid-Afrika, veral na die Midde-Ooste. Ongelukkig het Midde-Oosterse prysdinamika tydens 2023 egter nie die bedryf se prestasie ondersteun nie. Absa is egter van mening dat dié mark ‘n belangrike afsetpunt sal bly, soos wat plaaslike vraag na verwagting beperk sal bly. Dit, in kombinasie met groeiende voorsieningsuitdagings soos diefstal en uitgebreide droë periodes, sal versag moet word deur verhoogde verkope in premium-uitvoermarkte.
Die pad vorentoe
Lam- en skaapvleispryse sal na verwagting ‘n matige opwaartse neiging oor die vooruitskouingsperiode toon soos wat plaaslike verbruikersdruk versag en uitvoergeleenthede na die Midde-Ooste weer momentum kry. Dit behoort verder ondersteun te word deur strukturele produksie in die bedryf, wat voorrade beperk.
Bron : Absa AgriTrends