Kommandowurms

Kommandowurms het Suid-Afrika die eerste keer in tien jaar ingeval en rig veral groot skade op plase in Noordwes en Limpopo aan.
Die Kommandowurm, Spodoptera exempta is ‘n Afrikaanse motsoort. Dit is ‘n besonder skadelike pes, wat in staat is om hele aanplantings van gesaaides in ‘n kwessie van weke uit te wis. Die larwe voed op alle soorte grasse, vroeë stadia van graansoorte, bv. mielies, rys, koring, giers, sorgum, suikerriet, en by geleentheid kokosneut. Die kommandowurm ontleen sy naam aan hul gewoonte om in groot getalle uit grasveld na gesaaides te “marsjeer”. Hulle neig om in die reënseisoen in baie hoë digthede voor te kom, veral volgend op uitgerekte droogtes. Tydens die lang droëseisoen in oos-Afrika is hul bevolkingsdigtheid baie laag. Omdat groot uitbrake nooit in die droë seisoen waargeneem word nie, word dit die “buite-seisoen” genoem deur diegene wat hulle moniteer.
Spodoptera exempta se motstadium lewe ongeveer 10 dae. Die wyfie kan ‘n maksimum van sowat 1 000 eiers in haar leeftyd lê. Die ivoorkleurige eiers van die Kommandowurm word in groepies op blare gelê. Die eiers broei in twee tot vyf dae uit. Ses ruspestadia word in twee tot drie weke voltooi. Ruspes word gevind in twee morfologies onderskeibare vorme: ‘n “skoolvormende” tipe, wat swart is met geel strepe, en ‘n alleenlopende vorm, wat groen of bruin is. Die morfologiese vorm word bepaal deur digtheid — skoolvorming vind plaas by hoër digthede. Nietemin vertoon Kommandowurms nie die ware swermgedrag van byvoorbeeld sprinkane nie, en dit is slegs die skoolvormende tipe wat vir uitbrake verantwoordelik is. Oor die algemeen word Kommandowurms nie deur landbouers opgemerk totdat die ruspes 10 dae oud is, en van groen na swart verander het nie. In die laaste stadium, grawe die larwe 2–3 cm in die grond in om te pupeer. Volwassenes kom na 7 tot 10 dae te voorskyn. Die motte migreer oor tiene, en waarskynlik oor honderde kilometers tussen hulle pupeerplekke en oviposisie liggings. Die waarneming dat uitbrake skielik kan plaasvind in areas wat vir verskeie maande vry van die peste was, het die hipotese laat ontstaan dat die motte wel oor honderde kilometer kan migreer. Getuienis vir hierdie hipotese sluit in:
 uitbrake wat geografies afgewissel word met intervalle van een generasie;
 uitbrake wat dikwels voorafgegaan word deur hoë vangste van motte, wat verder met konvergensie van wind verbind kan word;
 resultate van isoensiem-ontleding wat aandui dat die Kommandowurmbevolkings van Kenia, Tanzanië, en Zimbabwe dikwels kruisteel;
 laboratoriumtoetse wat aandui dat die motte vlieënd kan bly vir verskeie ure;
 resultate van merk- en vangstudies, en radarnasporing wat dui op langafstand- en windafmigrasie deur Kommandowurmmotte.
Boere kan die wurms met 6g a.i./ha decis (250 ml van 2.5EC Decis per 100 liters water per ha) spuit, of 30g a.i./ha cypermethrin (150 ml van 20 EC formulasie per 100 liters water). Dit is die beste om te spuit wanneer die wurms sigbaar is en in die oggend beweeg. Vermy dit om in die hitte van die dag te spuit.
Ander raad is – sonder om te “spuit” – is om ‘n diep voor te ploeg VOOR die rigting wat die wurms beweeg. Hulle sal dan in hierdie voor val, en u kan die voor die volgende dag net weer toe maak, of in die voor spuit.
Dit is baie belangrik dat boere hul beeste nie nou in Kikuyu-gras laat wei as daar wurms is nie. Sodra die wurms die kikuyu gras eet, skei die gras ‘n gifstof af en as die beeste die gras eet, kan hulle baie siek word en vrek.
Bron: Wikepedia Ensiklopedie