Die pryse sowel as getalle by beesveilings in die land het drasties gedaal noudat toegang tot die Suid-Afrikaanse voerkraalmark feitlik onmoontlik is.
08 August 2016 | Landbou
Ronelle Rademeyer – Veilingshuise in Namibië het verlede maand skerp onder druk gekom nadat Suid-Afrika op 1 Julie die nuwe, streng invoerregulasies in werking gestel het wat dit uit ’n praktiese oogpunt onmoontlik maak om vee lewend na die buurland uit te voer.
Die getal beeste wat in Julie op veilings verkoop is, het gedaal van ’n gemiddeld van 30 593 per maand gedurende die eerste helfte van die jaar, tot net 12 664 in
Julie. Dit is 17 436 beeste minder as in Julie 2015 toe 30 100 beeste op veilings verkoop is.
Altesaam 152 963 beeste is van Januarie tot Junie vanjaar op veilings van die hand gesit, wys statistiek wat Vrydag deur die Vereniging vir Lewendehawe-agente en -vervoerders (Labta) vrygestel is.
Verder het die prys van speenkalwers van gemiddeld N$16,15 per kilogram in die eerste helfte van die jaar, teruggesak tot N$14,51 per kilogram. Dit verteenwoordig ’n daling in prys van 11,3%.
Die prys van tollies het gedaal van N$18,12 per kilogram tot N$16,49 al en dié van verse het met N$1 per kilogram teruggesak van N$16,07 tot N$15,07. Aangesien Namibië net oor beperkte voerkraalkapasiteit beskik, voer plaaslike produsente tradisioneel hul speenkalwers in reusegetalle na voerkrale in Suid-Afrika uit.
Mnr. Mecki Schneider, voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO), het vroeër gesê die nuwe dieregesondheidsvereistes waaraan boere moet voldoen voordat Suid-Afrika ’n invoerpermit uitreik, is net op klein skaal moontlik.
“Hierdie vereiste is op ’n klein skaal haalbaar soos wanneer teeldiere uitgevoer word, maar nie as jy honderdduisende stuks vee wat daar geslag gaan word aan al die gesondheidstoetse moet onderwerp nie. Ons het nie genoeg laboratoriums, kwarantyngeriewe en personeel daarvoor nie.”
Hy het gewaarsku oor die impak van die invoerregulasies op die plaaslike bedryf en gesê dit stuur op ’n ramp af.
“Veilingspryse het drasties geval. Baie veilings is al gekanselleer omdat daar nie koopkrag is nie.
“Dít, saam met die droogte, beteken ons stuur op ’n ramp af.”
Schneider het gewaarsku Namibiese boere is in reële terme 70% swakker daaraan toe as tien jaar gelede.
“Baie boere sal nie kan opstaan nie.”