Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) het sy projek-portfolio bekendgestel.
Dié projekte is ‘n strategiese versameling van inisiatiewe wat ontwerp is om aan die bedryf se behoeftes te voldoen, met die fokus op deurslaggewende uitdagings, die aangryp van geleenthede en die bevordering van innovasie regdeur die hele waardeketting as die sigbare teken van ‘n gesamentlike poging om die bedryf vorentoe te vat.
‘n Strategiese visie vir vordering
Die projekte is gesetel in die Rooivleisbedryfstrategie 2030, ‘n toekomsgerigte padkaart wat die stappe uitspel wat benodig word om die bedryf se prestasie en mededingendheid op te hef. Die RMIS het ‘n ambisieuse reis onderneem om betekenisvolle verandering op elke vlak van die rooivleissektor te bewerkstellig, terwyl daar erkenning gegee word aan die noodsaaklikheid van uitvoerbare intervensies om strategiese oogmerke in tasbare uitkomste te omskep.
Uiteenlopende en impakvolle inisiatiewe
Die RMIS se projek-portfolio, wat ‘n wye spektrum van fokusareas insluit, is daarop gemik om naspeurbaarheid te verbeter, volhoubare boerderypraktyke te bevorder, siektebestuur te verbeter, vleisveiligheid te verseker, marktoegang te verbeter, veediefstal te bekamp, kommunikasie te fasiliteer en navorsing en ontwikkeling te dryf. Die begrote inkomste vir die 2023/2024-periode beloop R44 miljoen en bestaan uit die volgende projekte:
- Rekordhoudingstelsels, kommunkasie en deel van data (naspeurbaarheid)
Die projek fokus op die identifikasie, vaslê en doeltreffende deling van relevante naspeurbaarheid- en produksiedata in ‘n gestandaardiseerde taal, met die doelwit om bedryf-naspeurbaarheid en datadeling te bevorder sodat produksie en handel kan verbeter. (Befondsing: 19% – R7 000 000).
- Kleinboer-ontwikkeling (LDS-projek eerste projek)
Dié insisiatief is daarop gemik om die kommersialisering van kleinskaalse boere ‘n hupstoot te gee by wyse van praktiese implementasie en mentorskap. Die RMIS is aangewys as die implementeringsliggaam vir die grondontwikkelings-ondersteuningprogram (LDS) namens die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling en sal toesig hou oor ‘n vyf jaar-inisiatief wat 35 boere betrek teen ‘n begroting van R220 miljoen. Die doel is om volhoubare produksiepraktyke te bevorder en die ontwikkeling van kleinskaalse boere moontlik te maak. (Die projek is self-finansierend)
- Beweeglike beesverwerkingseenhede vir kleinskaalse boere (inklusiewe groei)
Die doel van die projek is om beweeglike beesverwerkingseenhede te ontwikkel, toe te rus en te bestuur om omvattende diereverwerking vir die LDS-projek te fasiliteer en kleinskaalse boere behulpsaam te wees. Die inisiatief sal poog om dieregesondheid en ekonomiese waarde te verbeter deur toegang tot verwerkingseenhede te verbeter. (Befondsing: 8% – R3 000 000)
- Opleiding van kleinskaalse boere (inklusiewe groei)
Dié inisiatief fokus op die voorsiening van omvattende opleiding aan kleinskaalse boere, wat verskeie aspekte insluit soos produksiestelsels, voortplanting, gesondheid, weiding, bestuur, finansies, en bemarking. Verder word opvoedkundige inhoud ontwikkel vir sekondêre skoliere in samewerking met die Departement van Onderwys. Die hoofdoelwit is om kleinskaalse boere se produksie en winsgewendheid te verbeter, terwyl lewendehawe-opvoeding op sekondêre skoolvlak plaasvind. (Befondsing: 14% – R5 400 000)
- Siekte-aangetekening en ondersteunende veeartsenykundige dienste
Die identifikasie, vaslê, verwerking en deel van veeartsenykundige data oor die voorkoms van nasionale siektes ten einde pro-aktiewe benadering van behandeling te voorsien, sodat ‘n nasionale prentjie van dieresiektes in plek kan wees wat kan help dat kwessies vinnig aangespreek word. (Befondsing: 10% – R3 700 000)
- Voerkraalmark en bek-en-klouseer-sone (inklusiewe groei)
Die daarstelling van ‘n voerkraalmark in die rooi sone om die beweging van beeste uit die gebied vir bemarkingsdoeleindes te beperk en sodoende die verspreiding van bek-en-klouseer te versag, terwyl ekonomiese waarde geskep word. (Befondsing: 5% – R2 000 000)
- Opname-stelsel vir vleisveiligheid en veeartsenykundige ondersteuningsdienste
Die identifikasie, vaslê, ontleding en deling van nasionale vleisveiligheid-data om bekommernisse aan te spreek, voldoening te verseker en veiligheidskwessies stiptelik aan te spreek. (Befondsing: 10% – R4 000 000)
- SA Roovleis-sertifisering (marktoegang, uitvoere)
Die voorsiening van ‘n waardeketting-sertifisering vir vleis wat aan verbruikers verkoop word ten einde biosekuriteit, dierewelsyn en vleisveiligheid te verseker by wyse van ‘n waardeketting-ouditproses, sodat marktoegang en uitvoergeleenthede bevorder word. (Befondsing: 12% – R4 700 000)
- Veediefstal
Voorsiening van opleiding om veediefstal hok te slaan en die fasilitering van vergarderings waar veediefstalsake en -kwessies aangespreek word, met die doel om veediefstal te verminder en die vervolging van oortreders te bevorder. (Befondsing: 5% – R2 000 000)
- Produksie-ontwikkeling deur kommunikasie
Die ontwikkeling van inhoud wat met primêre produsente gekommunikeer word om produksie, mededingendheid en volhoubaarheid te verhoog en primêre produksie so te verbeter. (Befondsing: 9% – R3 400 000)
- Verbruikerskommunikasie en opvoeding deur Beef and Lamb SA
Bevordering van rooivleisverbruik onder verbruikers deur die voorsiening van wetenskaplike- en bedryfsterugvoer wat die belangrikheid van rooivleis as deel van ‘n gebalanseerde dieet uitlig, asook die voorbereiding van rooivleis. (Befondsing: 2% – R700 000)
- Navorsing en ontwikkeling
Dit behels onder meer navorsing- en ontwikkelingsprojekte wat fokus op die beesvleisgraderingstelsel asook die implementering daarvan om volgehoue kwaliteit en voldoening aan verbruikersvoorkeure te bevorder, asook om premium-markte plaaslik en internasionaal te ontsluit. (Befondsing: 8% – R3 300 000)
Samewerkende vennootskappe
Samewerkende vennootskappe wat RMIS met regeringsagentskappe, opleidingsinstansies en privaat belangegroepe smee, is sentraal tot die sukses van dié inisiatiewe. RMIS streef daarna dat die impak van sy projekte optimaal sal wees en betekenisvolle verandering regoor die algehele rooivleis-ekostelsel teweeg sal bring.
Meting van sukses: maatstawwe van impak
Ten einde die doeltreffendheid en die impak van sy ingrypings te meet, het RMIS ‘n stel prestasie-maatstawwe uiteengesit, insluitende die aantal uitvoermarkte wat oopgemaak word, die volume van kommersieel geslagte diere en die sukses wat voortspruit uit vlagskip-projekte soos die grondontwikkelingsinisiatief (LDS). Dié maatstawwe sal as noodsaaklike aanwysers dien in terme van die vordering wat gemaak word met die bereiking van die doelwitte van die Rooivleisbedryfstrategie.
Bron : RMIS