RPO KODE VIR BESTE PRAKTYK

Aangesien boere rentmeesters van die grond is wat aan hulle toevertrou is, het hulle ʼn verantwoordelikheid teenoor die natuur en die sosiale omgewing waarin hulle woon. Hulle word ook toenemend gekonfronteer met druk van rolspelers laer af in die waardeketting, verbruikers en die publiek in die algemeen. Hoewel sommige hiervan negatief ervaar word, dra dit tog by tot lang termyn stabiliteit, sosiale- en omgewingsvolhoubaarheid, en voedselsekerheid met positiewe gevolge vir die volhoubaarheid en winsgewendheid van die boerdery- onderneming. Hierdie dokument verskaf beginsels, self-evalueringsinstrumente en standaard operasionele prosedures (SOP’s) wat rooivleisprodusente sal help om voordurend te verbeter en die Kode na te kom. Ons opregte dank aan elkeen wat bygedra het tot die beplanning en ontwikkeling van die Kode.