Deur Alet Janse van Rensburg Donderdag 30 April 2015 07:49
“ Die hartseerding is dat geen boer ’n dier wreed wil doodmaak nie, maar die manier waarop ons skape deur hierdie roofdiere doodgebyt word, is uiters wreed. ” – Dries Wiese, president van die Suid-Afrikaanse Dorpertelergenootskap
Boere in Suid-Afrika verloor jaarliks ongeveer ’n miljoen lammers wat deur jakkalse en rooikatte vermink en lewend opgevreet word. Om boere dus te beperk tot sekere roofdier-vriendelike metodes om hul vee te beskerm, is verregaande, het mense in landboukringe gesê nadat die kleinhandelgroep Woolworths verlede week bekend gemaak het hy beplan om teen die einde van die jaar “roofdier-vriendelike skaapvleis” op sy rakke te hê. Dit beteken dié skape is op ’n roofdier-vriendelike
manier teen roofdiere beskerm. Lardus van Zyl, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie
(RPO), het gesê hul navorsing toon die kleinvee-skade weens roofdiere in die land bedra jaarliks sowat R1,4 miljard. Die jaarlikse skade aan grootvee draai by R500 miljoen. “Die meeste boere gebruik reeds sogenaamde roofdier-vriendelike praktyke in hul pogings om hul vee teen jakkalse en ander roofdiere te
beskerm, maar dié metodes is eintlik net vir boerderye van ’n sekere grootte bekostigbaar,” het hy gesê.
“Daar is dus ’n bekommernis dat sekere boere nie by die regulasies sal hou nie en nietemin hul produkte as roofdier-vriendelik sal verkoop. Ons sal dus daarop aandring dat die handelsmerk ingevolge die Wet op Landbouprodukstandaarde bestuur word en die praktyk geoudit word.”
Dries Wiese, president van die Suid-Afrikaanse Dorpertelergenootskap, het beaam dat boere reeds sover hul vermoë strek ander metodes, soos elektriese heinings, Anatoliese herdershonde en donkies, gebruik om vee te beskerm. Hy het gesê hul lede verloor jaarliks sowat 30% van hul skaaplammers
weens roofdiere. “Die hartseerding is dat geen boer ’n dier wreed wil doodmaak nie, maar
die manier waarop ons skape deur hierdie roofdiere doodgebyt word, is uiters wreed,” het hy gesê.
Dr. Kas Hamman, voormalige hoof van CapeNature, het gesê alternatiewe metodes hoef nie noodwendig duur te wees nie. “Sommige boere roteer hul skape tussen kampe om jakkalse te verwar,
ander gebruik reukhalsbande of klankgolwe om jakkalse af te skrik,” het hy gesê.
“Die probleem met beheermetodes soos gif en slagysters is egter dat dit diere nie selektief doodmaak nie. Jakkalse is byvoorbeeld baie territoriaal en sal dié jakkalse wat deur die jare aangeleer het om skape
te vang uit hul gebied hou. Deur die verkeerde jakkalse dood te maak, skep boere dus ’n groter probleem.” Justin Smith, Woolworths se hoof van volhoubaarheid, het gesê hulle erken dat roofdiere ’n groot bron van kommer vir baie boere is. Die winkelgroep oorweeg dus die verwagtinge van verskaffers en dié van ander betrokkenes terwyl die kwessie gepak word.