
- June 29, 2025
- 11:48 am
Makelaarsinsig:
Beskerm jou plaas teen die toenemende bedreiging van veldbrande
In vandag se landbou-omgewing is veldbrande een van die ernstigste en toenemend onvoorspelbare gevare wat land, vee, toerusting, en jou lewensbestaan binne ure kan vernietig.
As jy in die noordelike provinsies van Limpopo, Mpumalanga, dele van Gauteng, of die Noordoos-Vrystaat boer, ken jy die risiko’s eerstehands. Die veldbrandseisoen wat gewoonlik van Mei tot November duur, raak meer verwoestend, aangedryf deur droë grasvelde, sterk winde, onbeheerde plantegroei, en dikwels weens menslike nalatigheid.
Onlangse syfers van Working on Fire (WoF) beklemtoon die dringendheid van hierdie probleem. Verlede jaar is byna 4 miljoen hektaar, ongeveer dubbel die grootte van die Nasionale Krugerwildtuin, in Suid-Afrika afgebrand. In Desember alleen was daar ’n toename van 96% in veldbrandvoorvalle vergeleke met die vorige jaar, met buite-seisoen brande wat met 70% toegeneem het. Tragies genoeg is 34 lewens verloor, onder andere 18 brandbestryders, asook meer as 2 000 stuks vee en daar was ook ernstige infrastruktuurskade.
Jy is nie outomaties beskerm nie
“Dit is van kardinale belang dat produsente nie aanneem hulle is outomaties beskerm nie,” waarsku Gerhard Diedericks, senior risiko-adviseur by IntegriSure. “Baie landboupolisse bied wel veldbranddekking, maar dit is dikwels gestruktureer as ’n dekkinguitbreiding tot ’n landboubate- of gewaspolis. Dit is nie outomaties ingesluit nie, en dit is belangrik om vertroud met die voorwaardes van die branddekking-uitbreiding van jou polis te wees.”
Diedericks verduidelik dat hierdie dekking tipies beskerming teen brandskade aan gewasse, weiding, toerusting, en plaasgeboue insluit. Dit is ook van kardinale belang om aanspreeklikheidsdekking te hê indien ’n brand wat op jou grond ontstaan het, na buurgronde versprei. Maar om net die polis te hê is nie genoeg nie. “Versekeraars vereis dat produsente aan duidelik uiteengesette risikobestuursvoorwaardes voldoen. Dit sluit in die instandhouding van wettige brandpaaie, die versekering dat brandbestrydingstoerusting ten volle funksioneel is, en dat jy ’n aktiewe lid van jou plaaslike Brandbeskermingsvereniging is, soos vereis deur die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande, 1998 (Wet 101 van 1998),” sê hy.
Opleiding en tegnologie
Hy raai produsente verder aan om te belê in opleiding van personeel in basiese brandbestrydingstegnieke, en tegnologieë soos die Advanced Fire Information System (AFIS) te gebruik, ’n plaaslik ontwikkelde stelsel wat satellietdata en weerpatrone gebruik om hittebronne oor groot gebiede op te spoor. “AFIS gee produsente ’n belangrike voorsprong,” voeg Diedericks by. “Jy kan byna onmiddellik ‘n SMS-, e-pos- of toepassingkennisgewing ontvang as ’n brand naderkom, wat jou tyd gee om op te tree voordat dit te laat is.”
Hoewel organisasies soos WoF ’n kritieke ondersteuningsrol speel, beklemtoon Diedericks dat “brandbestuur uiteindelik by jou begin. Jy is die voorste verdedigingslinie van jou plaas. Sonder proaktiewe strategieë sal selfs die beste versekering nie voldoende wees nie.”
Ons finale boodskap is duidelik: As ’n trotse RPO-vennoot wil IntegriSure alle RPO-lede aanmoedig om hul landboupolisse te hersien. Verstaan presies waarvoor jy gedek is, maak seker jy voldoen aan alle risikobestuursvereistes, en bevestig dat jou versekerde bedrae jou werklike blootstelling akkuraat weerspieël. Doelgerigte, ingeligte voorbereiding is die sekerste manier om jou grond, jou besigheid, en jou toekoms te beskerm.
Praat met ’n landbou-adviseur by IntegriSure om jou polis te hersien, te verseker dat jy voldoende beskerming het, en om hulp te ontvang om effektiewe risikobestuursmaatreëls teen veldbrande te implementeer.
Kontak ons by 010 271 2277 of business@integrisure.co.za.