BOERE VAN BELFAST WEN SNOTSIEKTE-SAAK
Drie beesboere van Belfast het hul hofsaak teen sakemanne wat ‘n wildsplaas besit gewen ná laasgenoemde se wildebeeste aansienlike skade weens snotsiekte veroorsaak het.
Die Hooggeregshof in Gauteng het beslis die respondente moet binne 60 dae verseker die wildebeeste kan nie binne ‘n kilometer van die omliggende beesplase kom nie. Die eienaars van die wildsplaas moet ook die aansoekers se regskoste betaal.
Die aansoekers was Sizwe Khoza, Mari van Rooyen en Frans Allers, beesboere met plase wat aan die wildsplaas grens.
Die respondente was Rhys Griffiths, sy seun Richard, en die besighede in wie se name die wildsplaas geregistreer is.
Regter JJ Strijdom het beslis dit sou onredelik wees om van die respondente te verwag om die swartwildebeeste van die plaas te verwyder aangesien alle partye die reg het om hul plase op ‘n regverdige wyse te benut. Ten einde aan die voorskrifte van die Wet op Dieregesondheid, 1984 (Wet 35 van 1984) te voldoen, wat ‘n verpligting op eienaars en bestuurders plaas om alle redelike stappe te neem om te verhoed dat dieresiektes vanaf hul eiendom versprei, moet die wildebeeste egter hervestig word.
Bron : https://www.africanfarming.com/news/belfast-farmers-win-court-case-over-snotsiekte/