Red Meat Producers Organization

Deur Jan Bezuidenhout
Landbouweekblad 9 Oktober 2015

Brusellose versprei uiters vinnig as koeie toegelaat word om besmetlike nageboortes te vreet, waarsku dr. Chriche du Plessis van MSD Animal Health.

Verskeie inligtingsdae oor beesbrusellose word eersdaags aangebied. Alle beesboere, staatsveeartse, DGT’s en private veeartse word genooi om die inligtingsdae by te woon. (Sien lys van datums en plekke hieronder.)

Dr. Chriche du Plessis, tegniese en produkspesialis: Suiwel vir herkouerdiere, van MSD Animal Health, sê beesbrusellose is ʼn hoogs aansteeklike bakteriese siekte by beeste wat veroorsaak word deur die bakterie, Brucella abortus.

“Brusellose word onderskat omdat ons nie altyd die siekte verstaan nie en nie die direkte verliese sien nie. Groot ekonomiese verliese is wel aan die orde van die dag in besmette kuddes. Hierdie verliese in kuddes is as gevolg van aborsies, verlaagde melkproduksie, hoër somatiese seltellings, verlengde tussen-kalf-periodes, verlies van vervangingsverse en die waarde van ‘n teelkudde.

“Brusellose is belangrik aangesien dit ʼn soӧnose is, wat beteken dat die mens geïnfekteer kan word met die siekte. As gevolg van die menslike faktor is brusellose ʼn aanmeldbare en beheerde siekte in Suid Afrika. Brusellose is hoogs aansteeklik vir mense wat besmet raak deur kontak met besmette geaborteerde fetusse, baarmoeder afskeidings na geboorte en inname van ongepasteuriseerde melk. Dit staan bekend as Wissel- of Maltakoors en word maklik verwar met siektes soos griep. Dit word daarom dikwels nie korrek gediagnoseer nie, omdat die simptome meestal nie-spesifiek is. Simptome sluit in: Chroniese gewrig- en spierpyn, wisselende koors, moegheid, depressie, nagsweet-aanvalle, orgitis in mans en aborsies in swanger vroue. Mense met kroniese brusellose kan lae rugpyn ervaar en hepatitis, hartklep- en breinvliesontsteking opdoen.

“Brusellose versprei uiters vinnig as koeie toegelaat word om besmetlike nageboortes te vreet. In vatbare beeskuddes, kan aborsies  30-70 % van die kudde affekteer. Aborsies kom gewoonlik voor tussen 5-7 maande van dragtigheid. Swak, vol termyn kalfies wat vrek kort ná geboortes kan ook gesien word. In chroniese gevalle kan kalfies gesond en normaal gebore word en die nageboorte kan agter bly ná geboorte wat lei tot baarmoeder infeksies.”

Woon dié inligtingsdae oor brusellose by:
20 Oktober – Dundee – Dr. Sewellyn Davey
21 Oktober – Standerton – Dr. Sewellyn Davey
22 Oktober – Middelburg, Mpumalanga – Dr. Sewellyn Davey
27 Oktober – Vryburg – Dr. Nelmarie Rall
28 Oktober – Lichtenburg – Dr. Nelmarie Rall
3 November – Bethlehem – Dr. Sewellyn Davey
4 November – Hoopstad – Dr. Sewellyn Davey
5 November – Potchefstroom – Dr. Sewellyn Davey

Die program volg dieselfde format:
8:30 – 9:00: Registrasie
9:00 – 10:00: Ontbyt
10:00-11:00: Praatjie – Dr. Sewellyn Davey/Dr. Nelmarie Rall – Praktiese Brusellose Beheer
11:00-11:30: Tee
11:30-12:30: Praatjie – Dr. Chriche du Plessis – RB51 en entingsprogramme
12:30-13:00: Besprekings/vrae

* Hierdie uitnodiging is gerig aan alle beesboere, staatsveeartse, DGT’s en private veeartse. Getalle beperk tot 100 persone per dag. Kontak dr. Chriche du Plessis by 083 645 4358 of chriche.du.plessis@merck.com om jou plek te waarborg ‘n week vóór die beplande dag.