2013-02-10 23:00 Brittanje het noodsamesprekings gevoer ná die jongste kosskandaal in Europa – perdevleis in klaargemaakte beesvleisgeregte. Daar is veral verwarring oor die oorsprong van dié vleisgeregte. Owen Paterson, minister van omgewingsake, voedsel en plattelandse sake, het mense in die bedryf bymekaar gekry om dié krisis te takel. Hy glo dit is ’n internasionale sameswering van misdadigers wat goedkoop perdevleis as beesvleis verkoop. Die Sweedse voedselreus Findus het Vrydag verskeie gevriesde disse aan Frankryk en Swede onttrek nadat hy vroeër ook sy lasagne aan Brittanje onttrek het wat 100% perdevleis ingehad het. Die Britse kettingwinkel Aldi het gevind hul lasagne en spaghetti bolognaise het tussen 30% en 100% perdevleis in. Al dié geregte is in Luxemburg vir die Franse verspreider Comigel gemaak. Hulle het gesê die vleis is verskaf deur Spanghero, ’n maatskappy in die suidweste van Frankryk. Dit wil voorkom op die perdevleis oorspronklik kom van ’n Roemeense abattoir. Erich Lehagre, voorsitter van Comigel, het gesê hulle het gedink Spanghero verskaf vir hulle vleis van Franse beeste. “Ons het ’n groot probleem,” het Paterson aan Sky News gesê. “Daar is ’n beduidende hoeveelheid perdevleis in produkte wat gemerk is as verwerkte beesvleis. “Dit is onaanvaarbaar.